Dit was nie 'n lekker week nie - ons was vir 'n klein rukkie swanger, en toe nie meer nie. Ek is fine, net hartseerder as wat ek gedink het ek sou wees. Wens ek kon die nuus met meer deel voor dit so hartseer geword het. Maar ek wil dit tog deel, en gelukkig kan ek maar praat, want niemand verstaan Afrikaans nie.
Ons nuwe huis is lieflik, al werk die elektrisiteit in Melva se kamer nie elke dag nie, en al is die boonste badkamer se drein geneig om verstop te raak. Dis net lekker om ons eie plek te hê, om nie meer iemand se huurders te wees nie. Die simpel eienaars van die vorige huis - dieselfde mense wat op ons grasperk kom staan het met 'n karavaan, vir drie weke, twee keer, sonder om ons enigsins daarvoor te vergoed - het 'n spul onkostes van ons deposito afgetrek wat nie ons skade was nie. Nou ja, Jacques dreig om vir hulle 'n brief te skryf, en ek onthou hoeveel dit gehelp het die keer toe ons huis gebou het. Ten minste hoef ek nie meer elke maand vir hulle 'n tjek te stuur nie.
Soms kyk ek by die agterdeur uit, en moet myself herinner dat ek dit maar mag geniet, daar is nie 'n goeie rede om te vrees dat dit binnekort gaan verbygaan nie. Die laaste jaar in Suid Afrika was so lank, en elke keer as ek opgekyk het en die tuin, of die wolke, of die son gesien het, moes ek myself herinner om nie te geheg te raak nie. Ek is dankbaar dat ek weer so begin voel oor 'n plek. Nou wens ek ek kon dit vir almal van julle wys, maar nie in Julie nie.
No comments:
Post a Comment